Rapport(09/08/2008 17:45)-Hanlie Retief gesels met Patricia de Lille
Patricia de Lille is nog net so parmantig soos altyd. Dié astrante vrou van die Kaapse Vlakte kon die ANC nog nooit stilkry nie.
Patricia de Lille is nog net so parmantig soos altyd. Dié astrante
vrou van die Kaapse Vlakte kon die ANC nog nooit stilkry nie.
Niémand kon nog nie.
Nou weer, toe ’n ANC-komiteelid by die Skerpioene se openbare verhore
sê sy’s net daar vir af-show voor die kameras, toe looi Pat hom met:
“Ag, ek verteenwoordig nie vir Zuma nie, ek verteenwoordig
Suid-Afrika!”
Dis laatmiddag en die Marks-gebou by die parlement is besig om leeg te
loop. Haar hoekkantoor is ’n oranje OD-enklawe. Hare los op die
skouers, plek-plek grys, ’n kordate 57 – “mét ’n gholfvoorgee van 22” –
in haar denim en Pringle-streephemp.
Sy’s een van die min LP’s van ’94 wat nog oor is, die res raak nou
skatryk in die sakewêreld, brom sy.
Dan spring die politieke aspris weer uit: “Maar ek’s in die politiek
oor ek lief is vir my land, nie oor ek wil geld maak nie.”
Al wat inmeng met haar gholf, is haar werk, skerts sy. Daar’s vir haar
niks lekkerder as vier selfoonlose ure met haar gholfmaats Chester
Williams en haar twee “seuns” Paul Adams en Breyton Paulse nie.
Patricia die Piemper, noem hulle haar op die Kaapse Vlakte. Tot haar
ewige krediet. Want altyd sal die regmerk agter haar naam staan as die
nimmer swygsame verklikker van die voortslepende wapenskandaal.
Dit het als begin met ’n dik dossier wat ontgogelde ANC- en Nasionale
Intelligensiedienslede een ’99-lentedag oor ’n restauranttafel na haar
toe gestoot het …
En, grinnik sy, as dinge in die parlement haar begin verveel, druk sy
maar net weer die “De Lille-dossier” onder die blad, sit af Grootsaal
toe en klits dinge weer goed deurmekaar.
“Dit werk élke keer!”
Sy gee ’n laggie. “Dis wat my aan die gang hou: ek krap waar dit nie
jeuk nie en dan sit ek terug en kyk hoe mense reageer.”
Barack Obama? Van haar gaan hy ’n paar reguit vrae kry oor sy
Afrika-beleid … De Lille is een van twintig leiers van demokratiese
partye wêreldwyd wat genooi is vir ’n persoonlike sessie van vier dae
saam met Obama wanneer hy einde Augustus amptelik ingestem word as
Amerika se Demokratiese presidentskandidaat.
“Ek kan nie wág nie,” sê sy opgewonde, “hy’t visie en inspireer
mense.”
Nou nie juis eienskappe wat sy tussen die ANC-LP’s om haar in die
parlementsbanke ervaar nie.
Ná haar party se sterk wegspring in die 2004-verkiesing het die De
Lille-trein stoom verloor. Die OD het vasgeval in binnegevegte en die
kortstondige bondgenootskap met die ANC in Kaapstad was ’n
fiasko.
“Dit het geboemerang. Die mense het ontsteld gevra hoe kan ons as
opposisieparty met die regerende party saamgaan? Hoekom staan die
opposisie nie saam nie?”
Toe doen sy wat min politici doen: erken die fout en vra om
verskoning.
“Laat ek maar eerlik wees: nadat ons by die metropool se DA-geleide
veelpartyregering aangesluit het, het dinge vir die Onafhanklike
Demokrate voorspoediger begin gaan. Ons sal waarskynlik weer die
kingmaker wees ná die 2009-verkiesing.”
Nou’s die vraag onder die berg: bly De Lille by Zille of gly sy weer
ANC toe?
“Die boodskap van OD-ondersteuners op grondvlak is vir my helder: die
OD verkies die DA. Ná ons konsultasieproses in September dink ek dis
die rigting wat ons sal inslaan.”
Die politieke klimaat is tans uitstekend vir opposisiepolitiek, sê sy.
En die OD, tans op ’n sterk groeikurwe, slaan munt daaruit.
Ebrahim Rasool was skaars as premier afgedank toe loop 120 Wes-Kaapse
ANC’s oor na hulle – “ ’n direkte gevolg van sy afdanking en die
ANC-binnegevegte.”
Die OD groei tans sterk in die bruin woonbuurte op die Kaapse Vlakte.
Hulle’t die DA bloedneus geslaan in talle tussenverkiesings in die Wes-
en Noord-Kaap (waar hulle die amptelike opposisie in 80% van die
munisipaliteite is).
“Waar die OD steun wen, daal dié van die ANC en bly die DA stabiel. Dis
vir ontgogelde ANC-ondersteuners makliker om na die OD te migreer as DA
toe.”
Iewers sedert 2003, toe die OD eintlik net Patricia de Lille was, so ’n
eenvrouparty sonder beleid en infrastruktuur, het die OD in getalle en
statuur begin groei.
Ja, lag sy, en dis hoekom die volgende verkiesing vir haar
allerbelangrik is.
“My persoonlike ideaal was om die eerste vrou te wees wat ’n party lei
wat setels wen. Ek hét. Nou wil ons wys ons is hier om te bly.”
En nou wil dié leeuwyfie Leeuwenhof toe … Drie vroue (De Lille, Zille
en Lynne Brown) in dieselfde premierskapresies.
Sy trap haastig rem. “Ek’s darem nie só voorbarig nie. Ek het net gesê
as die mense van die OD my vra, sal ek bereid wees om dit te
oorweeg.”
En wat van die gerugte van ’n samewerkingsooreenkoms tussen
opposisiepartye in volgende jaar se algemene verkiesing?
“Ons het tans gesprekke oor ’n nasionale koalisie. Eén politieke party
met een kieserslys, leier en beleid is nou net nie polities haalbaar
nie.
“Wat ons egter kán doen, is om vir Suid-Afrikaners te sê: ons staan as
aparte politieke partye met die doelwit om nie anti-ANC te wees nie,
maar ná 2009 saam te werk spesifiek om die Grondwet te beskerm.”
Sy tel die Grondwetboekie op – al voosgeblaai en naby haar hand op die
lessenaar. “Die ANC wil Zuma uit die hof hou tot nadat hy president
geword het. Ek dink die ANC gaan dan waarskynlik sy
tweederdemeerderheid gebruik om die Grondwet te verander sodat ’n
sittende president nie vervolg kan word nie. Soos dinge nou staan, sal
die gesamentlike opposisie nie genoeg stemme hê om dit te keer
nie.
“Maar laat ek dit wéér sê: nog nooit was die grond so vrugbaar vir
groei in die opposisiepolitiek nie.”
Dis die vakbonde wat dié eertydse laboratoriumtegnikus in die 1980’s
tot die politiek bekeer het. Die bekkige vakbonder het vinnig opgang
gemaak tot adjunkpresident van die National Council of Trade Unions
(Nactu) in 1988 – die hoogste posisie tot nog toe vir ’n vrou in die
vakbondwese.
Sy’s polities táái gebrei, maar sê daar was tye ná die oopvlekking van
die wapenskandaal dat dit vir haar gevoel het sy word verswelg deur ’n
ANC-oormag.
“Ek sal nooit die skok en ontnugtering vergeet toe ek die omvang van
die wapenskandaal besef nie. Ek kon nie glo dat mense wat in die stryd
teen apartheid was binne vyf jaar so korrup kon raak nie.
“Toe volg twee jaar van hél. Doodsdreigemente, dagvaardings om te
getuig, ’n president wat op televisie sê daar’s geen prima facie-bewyse
van korrupsie nie, terwyl sy twee advokate hom die teendeel geadviseer
het.
“Dis amper ’n dekade van ontkenning. Die ANC moet hul naam verander na
African Na-tional Denial.”
Sy’s oortuig die laaste is nog nie gesê oor die bewerings dat pres.
Thabo Mbeki R30 miljoen se omkoopgeld van die Duitse maatskappy MAN
Ferrostaal ontvang het nie.
“Reeds in die De Lille-dossier word gesê Duitsland het 3% van die
waarde van die totale kontrak opsy gesit vir kommissie. Dis R30
miljoen. Dis amper soos ’n legkaart.
“Andrew Feinstein (gewese ANC-LP wat in sy boek After the Party die
wapenskandaal blootlê) het aan my bevestig die konsultasiemaatskappy
wat die bewerings gemaak het, is bo verdenking.
“As Mbeki sê hy’s onskuldig, moet hy vir die land verduidelik hoe dit
gebeur het dat MAN Ferrostaal, wat nie eens op die kortlys was nie, die
kontrak skielik ná sy besoek aan Duitsland gekry het.”
Dié R30 miljoen is egter ’n druppel aan die emmer, sê sy. “Wat
omkoopgeld betref, was die Duitse aanbod die nederigste. Die gróót een
is British Aerospace, wat die Skerpioene nou weer ondersoek. ’n Vorige
Skerpioen-advokaat, Gerda Ferreira, het destyds al ’n lys gehad van
uitbetalings van wie wat gekry het.”
Die ANC se wapenaankoop-jol het waarskynlik al vóór ’94 begin, vertel
sy, tydens die Kodesa-onderhandelinge. “Dit was payback time vir ou
vrinne soos die Britse Arbeidersparty: ons het julle gehelp veg teen
apartheid, koop nou jul wapens by ons.”
Sy baklei al donkiejare vir ’n regulasie dat private finansiering aan
politieke partye openbaar gemaak word. “Ek probeer al van Januarie af
die mosie deur die parlement kry, maar die ANC weier net.”
Aanhou en aanhou …
Sy wéét van. 1999 was haar annus horribilis: haar jongste sussie is
verkrag en vermoor en sy was in ’n groot motorongeluk waarin sy die
meeste van haar tone verloor het en ses maande lank in ’n rolstoel
was.
“Die eerste keer toe ek weer bestuur ná my ongeluk moes ek aftrek langs
die pad, my man bel en sê ek kan nie verder nie, my senuwees is
óp.”
Nege jaar later is sy steeds maar besig met haar onwaarskynlike
lewenstaak om agter kroeks aan te hol, giggel sy.
Gee so ’n skewe glimlag.
“Wee’ jy, ek’s lief vir my land. Elke oggend as ek my gebede gesê het
en buitentoe stap, dan be-lowe ek myself: ek gaan nie toelaat dat hulle
my land so opmors nie.”
